Kom maak ’n draai by Die Keldery in die feesseisoen

Die Keldery die perfekte venue vir jaareindfunksies
November 21, 2017
Die Keldery, die perfekte venue vir enige spesiale geleentheid
January 5, 2018

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer almal hulself gereed maak om vakansiereëlings te tref om af te koel en te ontspan na ’n lang werk- en skooljaar. As jy op soek is na ’n plek om jouself te geniet en af te koel, moet jy beslis ’n draai maak by Die Keldery tydens die feesseisoen.

Die Keldery is geleë by die Spruitdrift Wynkelder net buite Vredendal, sowat 300 km van Kaapstad en is een van die gewildste en stylvolste restaurante in die Matzikama-streek. Dit spog ook met ’n pragtige uitsig oor die Maskamberg-reeks.

Toeriste word genooi om van Saterdag, 16 Desember, Die Keldery te besoek om te ontspan en net gesellig saam met vriende en familie te verkeer. Jy kan eg-Namakwalandse gasvryheid en vriendelikheid van Die Keldery se personeel verwag tydens een van jou besoeke.

“Dit is altyd ’n plesier om toeriste by ons te ontvang en ons sien uit daarna om die besoekers op die hande te dra en hulle te bederf met ons smullekker geregte,” sê Adri Coetzee, restaurant- en funksiekoördineerder.

Toeriste kan die Namaqua-wynreeks in ware Matzikama-styl en luuksheid geniet by Die Keldery. Met Die Keldery wat die amptelike proelokaal van Namaqua Wyne is, kan toeriste die gratis wynproe en ook die biltong-en-wyn-paring of die sjokolade-en-wyn-paring vir slegs R35 geniet. Dit is beslis iets om na uit te sien tydens jou besoek aan Die Keldery.

Die Keldery is nie net oop vir toeriste hierdie feesseisoen nie, maar bied ook ’n Kersfees-ete aan op Maandag, 25 Desember. Jy kan uitsien na geregte soos brokkolislaai met roomsous, die lekkerste bobotie-phyllomandjies as voorgereg en vir hoofgereg is daar lamspastei, geroosterde beesvleis, hoenderboudjies, gegeurde rys en spinasie. As jy ’n soettand het, sal jy beslis die sjokoladetertjies geniet. Die Kersete beloop R280 per persoon. Bring jou gesin en kom geniet ’n heerlike bord kos in goeie geselskap. Besprekings vir die Kersete is noodsaaklik. Kontak Die Keldery by 027 213 3699 om jou tafel te bespreek en om teleurstelling te voorkom.

“Ons nooi almal gedurende die feesseisoen uit om saam met ons by Die Keldery te kom kuier, om die feesseisoen in styl te vier en om die laaste paar dae van 2017 te geniet,” voeg Coetzee by.

“Baie dankie aan al ons kliënte vir die ondersteuning in 2017. Die Keldery se personeel wens al ons kliënte ’n geseënde Kersfees en ’n voorspoedige nuwe jaar toe,” sê Coetzee.

Om ’n bespreking te maak vir die Kersete of om meer uit te vind oor Die Keldery se toeriste-verrigtinge tydens die feesseisoen, skakel gerus 027 213 3699 of stuur ’n e-pos na diekeldery@namaquawines.com.

 

Besoek ook Die Keldery se Facebook-blad by www.facebook.com/diekelderyrestaurant/, volg Die Keldery op Instagram by @diekeldery of op Twitter by @DieKeldery of besoek Die Keldery se webtuiste by diekeldery.com/