Geniet die wyn -en druiwesap proe by Die Keldery

Rooiwyn warm sjokolade drankie
May 7, 2018

’n Wynproe is een van die lekkerste aktiwiteite wat jy saam met familie en vriende kan geniet. Indien jy op soek is na ’n plek waar jy ’n wyn proe-en-pas kan geniet, is Die Keldery die perfekte plek waar jy dit kan doen.

Die Keldery, geleë by die Goedgemeen-plaas op Spruitdrift buite Vredendal, spog met die hoogste gehalte wyne wat afkomstig is van slegs die beste druiwe wat pas by tradisionele geregte. Namaqua Wyne bied hul geliefde wyne hier aan met Die Keldery as die proelokaal. Jy kan die wyn proe-en-pas geniet vir slegs R50 per persoon of vier wyne proe vir slegs R20.

Besoekers kan daagliks tussen 09:00 en 17:00 ’n draai by Die Keldery maak en die bekroonde Namaqua-reeks met verskillende soorte sjokolade of biltong proe. Met hierdie wynproe kan jy jou smaaksintuie verbreed en jou mond op ’n smaak-avontuur neem.

Jy kan van die Namaqua-wynreeks die puikste wyn proe met die lekkerste Lindt-sjokolade of jy kan selfs die wyn geniet saam met verskillende soorte biltong.

“Elke wyn bevat ’n unieke geur en reuk, maar dit kan soms moeilik wees om hierdie verskille tydens ’n wynproesessie te identifiseer. Die Keldery gee jou ’n lys van eienskappe voor die proesessie, jy moet dan vir elke kombinasie slegs die toepaslike opsies afmerk, notas oor die smaak maak en ’n gradering kies. Omdat dit van persoon tot persoon verskil, is daar geen verkeerde antwoord nie,” sê Adri Coetzee, restaurant- en funksiekoördineerder.

“Die wyn is die ster van die vertoning, dus sal jy altyd die wyn voor die sjokolade probeer, en dan weer die wyn. Vat jou tyd om die geure van albei te geniet. Onthou, jy is op soek na ’n balans en soortgelyke geure,” voeg Coetzee by.

Die Keldery bied ook vir die kinders ’n druiwesapproe aan sodat hulle nie uit sal voel terwyl die volwassenes aan hul drankies teug nie. Hierdie druiwesapproe vir die kinders word aangebied vir slegs R35.

Vir meer inligting oor die wyn- en druiwesapproe, skakel gerus 027 213 3699 of stuur ’n e-pos na diekeldery@namaquawines.com. Besoek ook Die Keldery se Facebook-blad by www.facebook.com/diekelderyrestaurant/, volg Die Keldery op Instagram by @diekeldery of op Twitter by @DieKeldery. Besoek ook Die Keldery se webtuiste by diekeldery.com/